GEREFORMEERDE KERK

PRETORIA-ANNLIN

 

Ek wil weet

 
 

Het jy ‘n kwelvraag?

Is daar dalk ‘n skrifgedeelte wat jy nie mooi verstaan nie en waaroor jy meer duidelikheid verlang? Of het jy moontlik ‘n vraag oor ‘n probleem wat jy ondervind? Hier is ‘n geleentheid om jou vraag te stel. Jou vraag sal dan na ons predikante verwys word en hulle sal jou probeer antwoord. Jy kan kies of jy jou vraag en antwoord privaat wil hou en of jy dit wil deel sodat dit ook vir ander tot voordeel kan wees. As jy kies om die vraag en antwoord te deel, sal dit op hierdie webbladsy geplaas word sodat ander dit ook kan lees.

Ons verneem graag van jou as jy ‘n vraag wil stel.

Kwelvraag

Johnny vra namens bybelstudiegroep: Ons bybelstudiegroep (Neels, Annatjie, Andrie en ek) is tans besig om die boek Openbaring te bestudeer. Ons is nou besig met Hoofstuk 7 van die boek en het vandag ’n vraag gehad waarmee ons hoop iemand kan ons mee help. 

In hoofstukke 4 en 5 kon ons ’n blik kry op God se troon en dit wat rondom sy troon gebeur. Benewens die beskrywing van God, die Lam, die vier lewende wesens en die engele word die 24 ouderlinge met hul krone beskryf in Hoofstuk 4: 4. Ons begryp hoe die simboliese getal van 24 saamgestel is. Die bronne wat ons geraadpleeg het (Bybel in Praktyk, Verklarende Bybel, ds Andries Myburg se preke oor Openbaring en Dr Heinrich Zwemstra se boekie oor Openbaring) is dit eens dat die 24 ouderlinge die kerk van die Ou en Nuwe Testament verteenwoordig, d.w.s. die gelowiges op alle tye en plekke.

In Hoofstuk 7 word die 144000 beskryf wat deur God verseël is. Weereens begryp ons hoe die simboliese getal saamgestel is. Verse 1-8 gee ons ’n blik op die bewaring van hierdie gelowiges in ’n tyd wanneer God se oordeel aanbreek en in verse 9-17 word dieselfde gelowiges beskryf in die ewige heerlikheid. Dus die eerste deel van Hoofstuk 7 beskryf hoe God die gelowiges bewaar in hulle aardse stryd en die tweede deel van die hoofstuk beskryf die oorwinning wat God aan hulle gee nadat hulle aardse stryd verby is.

Hoofstuk 7 beskryf ook weer, soos in Hoofstuk 4, die 24 ouderlinge, waar hulle gekniel het met hulle gesigte na die grond en God aanbid het. In Hoofstuk 4 het die 24 ouderlinge al die die gelowiges uitgebeeld. In Hoofstuk 7 word al die gelowiges uitgebeeld met die 144000 verseëldes en die groot menigte wat niemand kon tel nie. Maar nou is die 24 ouderlinge ook teenwoordig. Was die eerste simboliek dat die 24 ouderlinge ook al die gelowiges uitbeeld dan korrek?

Ds Attie Venter antwoord: Na die beste van my wete is die 24 ouderlinge simbolies van die 12 stamvaders van Israel en die 12 apostels van die Nuwe Testamentiese bedeling.  Die 24 persone verteenwoordig dan eerder God se verbond met sy volk wat Hy voorsit en telkens herbevestig deur individue, alhoewel hulle natuurlik ook deel van die 144 000 is.          

Renate vra: Wat was die doel van die toonbrode?

Ds Attie Venter antwoord: Goeie naand Renate.  Dis ’n moeilike kwessie aangesien die betekenis van die toonbrode nie in die Bybel self gestel word nie, na my beste wete en die betekenis afgelei moet word.  Daar kan dus ander interpretasies wees.

Levitikus 24: 5“Jy moet koringmeel vat en twaalf ringbrode daarvan bak. Elke brood moet van drie kilogram meel gebak word. 6Pak dit in twee stapels van ses elk op die goue tafel voor die Here. 7Sit dan op elke stapel ‘n bakkie suiwer wierook. Die wierook is ‘n offer van die Here in die plek van die brood. 8Die brood moet gereeld op elke sabbat daar voor die Here vervang word. Dit is ‘n verpligting wat vir altyd op die Israeliete rus. 9Die brood kom Aäron en sy seuns toe. Hulle moet dit op ‘n gewyde plek eet, want dit is ‘n besondere gewyde gawe. Dit is ‘n deel wat hulle altyd moet kry uit die offers wat aan die Here gebring word.”

Die 12 brode verwys na die 12 stamme van Israel (en God se verbond met hulle). Die brood is op elke Sabbatdag vervang met vars brood. Aaron en sy seuns as priesters kon die ou brood eet.  Die priesters het die Brood daar as offer vir God, namens die volk geplaas en daardie Brood het die priesters dan weer aan die lewe gehou.  Hulle het die Brood aan God geoffer (oorgegee of toegewy) en God het dit teruggegee, deur die nie te neem nie.

Brood verwys gewoonlik na versorging en sekuriteit. Dit is absoluut noodsaaklik om van te leef.  As jy kos het om te eet, kan jy rustig wees, al slaap jy in die veld en kry koud.   Die vars Brood verwys waarskynlik na God se sorg wat altyd nuut by sy volk is, Hy het nie in die eeu-oue verlede ’n plan opgestel waarop Hy sy volk versorg en dit gaan nou maar net so aan nie, Hy is altyd vars en teenwoordig om die behoeftes van sy volk raak te sien.  Daarom moet die mens se aanbidding en dien van God ook lewend en vars wees. Nie noodwendig nuut en anders as tevore nie, maar lewend.  Hierdie brood wys na die Brood van die lewe, die Woord van God vir Nuwe Testamentiese gelowiges (priesters) en is nodig vir geestelike groei. 

Natasha vra: Jesus sê vir Nikodemus in Johannes 3 vers 13 : En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel  neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.

Jesus praat asof hy reeds opgevaar het terwyl hy duidelik nog op aarde is. Kan u asseblief vir my verduidelik wat die rede daarvoor kan wees

Ds Giepie van der Merwe antwoord:  Goeie middag Natasja, baie dankie vir die vraag. Ek moet sê ek self het ookal die teks gelees en gewonder hoekom Jesus so praat asof Hy reeds opgevaar het, terwyl Hy dan nog hier op aarde was. 

Ek het bietjie na betroubare kommentare gaan kyk en nie een van die kommentare wat ek geraadpleeg het, spreek die saak aan nie. 

Ek kan daarom maar net uit my eie beperkte begrip iets daaroor sê en dit is dat Jesus heelwaarskynlik so gepraat het, omdat Hy oortuig was dat Hy uit die dood sal opstaan en weer na die hemel sal opvaar om ter wille van Sy kerk, Sy amp as Koning oor die heelal te gaan opneem. 

As mens is Hy dan op hierdie stadium reeds deur die Heilige Gees tot hierdie vaste wete/oortuiging gebring dat dit die weg van Sy Vader met Hom is!

Maar eers moes Hy in Sy dood ingaan, sodat Hy daardeur vir ons as Sy volgelinge, n plek in die Vader se hemelse huis kon voorberei!

Ons loof Hom daarvoor!

Johnny vra: Gisteraand by ons ontdekkingsbybelstudie het ons Jesaja 43:1-4 saam gelees. Vers 4 gaan so: “Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.”

Ons het gewonder wat die korrekte betekenis van die laaste gedeelte kan wees, nl.   “…gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.”

Ek doen hierdie navraag namens ons huisgroep, maar ons sal nie omgee as die antwoord ook met ander gedeel word nie.

Ds Attie Venter antwoord: Hierdie woorde gryp terug na God se belofte aan Abraham om aan sy volk ’n nuwe land te gee waar hulle Hom sal aanbid. Die land Kanaän.  In Eksodus 23: 27 (onder andere) bevestig Hy sy belofte dat Hy dit self sal vermag, sonder hulle hulp.   

In Josua word die land dan verdeel tussen die stamme en elkeen kry sy deel. Maar hulle moet Hom gehoorsaam en alleen aanbid.  In Josua 24: 13 lees ons weer – in ’n ander idioom – hoe stiptelik God sy belofte hou:  “So het Ek julle dan ‘n land gegee waar julle nie aan gearbei en stede wat julle nie gebou het nie, dat julle daarin kan woon; wingerde en olyfbome wat julle nie geplant het nie, daar eet julle van”

Dit wys natuurlik in geestelike sin op die uitverkiesing van God se volk, en dan ook op ons verkiesing vandag.  Hulle het nie verdien om uitverkies te word nie EN hulle het ook nie meegewerk aan hulle saligheid nie, maar dit is slegs genade. Dit het gebeur deurdat God nasies uit die land verdryf het wat in Kanaän gewoon het.  Ek dink dit sou nie te verregaande wees om ’n vergelyking te maak dat God selfs bereid was om sy Seun prys te gee in ruil vir hulle vryheid nie.

Danie vra: Jesus sê in Johannes 12 vers 48 tot 50 (1953 Vertaling):  48 Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag. 49 Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek.  50 En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek — net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.

Wat was Jesus se woorde waarna  vers 48 verwys? en wat is die gebod waarna vers 49 verwys?

Ds Attie Venter antwoord: 1. Die woorde waarna Jesus verwys sal die direk voorafgaande woorde wees wat Hy tot hulle gerig het naamlik vers 44-47. In vers 44 staan daar Jesus het dit uitgeroep. Hy wou dus dat almal dit kan hoor. Maar dan sal dit natuurlik ook alles insluit wat hulle Hom al ooit hoor sê het want al sy Woorde is altyd relevant want dit is die Blye Boodskap. 

2. Wat die gebruik van die woord “gebod” betref. Dit is verseker nie ’n nuwe of geheimsinnige gebod nie, want die Skrif is openbaring en nie verdoeseling nie.  Die Gees wil bekend maak en nie verberg nie.  Ek sou dit verklaar dat dit nie dui op nog iets wat Jesus moes sê in byvoeging tot sy woorde in vers 48 nie, maar dat dit eerder die gesag van sy woorde aandui.  Sy Vader het aan Hom woorde gegee om oor te dra en Hy mag daarvan nie afwyk nie. Die Vader het dus nie voorstelle aan Jesus gemaak oor hoe Hy dit kan benader nie, maar dit is soos ’n gebod. Reguit en op die man af en spesifiek.  (Vergelyk Deuteronomium 18: 18)  Vir die hoorders is dit woorde wat opwek tot bekering, vir die Boodskapper is dit ’n opdrag.