GEREFORMEERDE KERK
PRETORIA-ANNLIN
Evangelisasie
Visie
Ons visie is ’n Gemeente wat volgelinge van Christus maak omdat hulle toegerus, gereed en besig is om hul spesifieke gawes aan te wend om die Groot Opdrag van Jesus uit te voer.
Missie
Ons missie is om ons gemeente toe te rus om die Groot Opdrag van Jesus uit te voer. Ons doen dit as volg:
- Beplan aksies
- Lei lidmate op (gesprekvoering)
- Organiseer
- Inisieer
- Motiveer lidmate
- Koördineer
- Finansiëring
- Verskaf hulpbronne
- Fasiliteer geestelike tuiste
- Terugvoer aan gemeente
Vertakkings van Evangelisasie
- Eie omgewing
- Nabye omgewing
- Buitelands
- Bybelverspreiding
Wat doen ons gemeente t.o.v. evangelisasie?
Ons gemeente is tans betrokke by vele evangelisasie-aksies wat almal ten doel het om die Woord van God te verkondig en om dissipels vir Hom te maak (Mat 28:19).
Ons moet God se grootheid, Sy magtige dade, Sy liefde en Sy ryke genade gaan verkondig – nie net hier in ons eie omgewing nie, maar selfs verder. Handelinge 1:8 sê dat ons getuies sal wees “tot in die uithoeke van die wêreld”. Ons gemeente het dus die evangelisasiewerk opgedeel in bogenoemde vier vertakkings. Bybelverspreiding word gesien as ’n oorkoepelende taak wat in al drie ander gebiede voorkom.
Daar is heelwat evangelisasieprojekte wat jaarliks aangepak word. Voorbeelde van sulke projekte word hieronder genoem.
1 Eie omgewing
Bid vir vyf: Lidmate is gemotiveer om met bure, werkskollegas, en mense wat hul pad kruis te praat oor God se grootheid. Lidmate kan sulke mense identifiseer deur ’n lysie saam te stel van ten minste vyf persone en dan eers tot God te bid voordat hulle met die mense op die lysie praat. So is die aksie “Bid Vir Vyf” gebore. Lidmate word dan toegerus hoe hulle met die mense op hul lysie kan gesels.
Praat oor Jesus: Toerustingsessies word gereël om lidmate die vrymoedigheid te gee om gemaklik met medelidmate en mense buite die gemeente te praat oor Jesus en wat Jesus vir hulle beteken.
’n klankopname met ’n oordenking en wenke oor hoe om oor Jesus met iemand te gesels word ook twee-weekliks aan die hele gemeente uitgestuur. Daar kan na die opnames geluister word deur op die volgende skakel te klik: Praat-oor-Jesus
Om vrymoedig te kan praat oor Jesus
Tweedehandse verkopings: Die hele gemeente is by hierdie projek betrokke deurdat hulle ’n geleentheid kry om hul tweedehandse ware soos klerasie, kombuisware, bedlinne en gordyne te skenk. Die ware word dan een keer per maand te koop aangebied aan mense in die omgewing van die kerk asook inwoners se werkers. Die ware word spotgoedkoop aangebied en die verkoping is dus eintlik ’n uitreik na hierdie mense om Jesus se liefde te vertoon. Die opbrengs van die verkopings word gebruik om nuwe Bybels in al die landstale mee aan te koop. Die Bybels word dan by die volgende maand se verkoping aangebied teen ’n nominale bedrag. Hierdie projek is dus tegelykertyd ’n Bybelverspreidingsaksie.
’n Tipiese maandellikse tweedehandse verkoping
Kersliedere by kerslig: Elke jaar op oukersaand (24 Desember) kom lidmate saam op die grasperk voor die kerk en elkeen bring sy piekniekmandjie saam. Die idee is dat lidmate ook bure buite die gemeente, eensames en hulle besoekende familie uitnooi om deel te neem. Almal eet dan heerlik saam en sing kersliedere. So het daar al heelwat besoekers van buite by ons aangesluit en saam die Here se liefde beleef.
Kerkplanting in eie omgewing: Daar word gedink aan kerkplanting van ’n multi-kulturele gemeente, bestaande uit lidmate van verskillende taalgroepe, wat vir die hele gemeenskap toeganklik sal wees. Daar word in klassisverband hieroor gesprek gevoer en die gedagte is dat al die Gereformeerde gemeentes Noord van die Magaliesberg hieraan sal meewerk.
2 Nabye Omgewing
Mmakau
Geskiedenis: Vir baie jare het GK Pretoria-Annlin saamgewerk met GK Magalieskruin en GK Pretoria Noord en evangelisasiewerk gedoen in die Mmakau omgewing. Eredienste in die gebied is gehou en evangelisasiegesprekke van huis tot huis het elke Sondag voor die eredienste plaasgevind. By die draai van die eeu is ’n kerkgebou vir die groep lidmate, wat toe nog ’n wyk van die GK GaRankuwa was, voltooi. GK Pretoria Noord het op ’n stadium onttrek en die oorblywende gemeentes van Annlin en Magalieskruin het gehelp met die uiteindelike afstigting van die GK GaRankuwa. GK Mmakau het in 2006 formeel afgestig van GK GaRankuwa en dr. Amos Sekualelo is in die begin van 2008 as predikant van Mmakau bevestig.
As gemeente het GK Mmakau vir jare saamgewerk met GK Pretoria-Annlin om nog ’n gemeente te plant in die nuut ontwikkelde gebied van GaRankuwa (Zones 20, 23, 24 en 25) waar talle HOP huise opgerig is en waarheen baie mense gestroom het. Vir jare is daar gepoog om grond te bekom vir die oprig van ’n kerkgebou in die gebied, maar al die pogings met die stadsraad was onsuksesvol. GK Mmakau het ook kennis gegee dat hulle eers wil fokus op die opleiding van eie lidmate voordat hulle wil verder gaan om die evangelie in die nuwe gebied van GaRankuwa te bring. Die vraag moes dus gevra word of die Here ons as Annlin gemeente nog roep om hiermee voort te gaan.
Huidige aktiwiteite:
Die fokus het gevolglik geskuif na twee ander belangrike aktiwiteite, nl:
- Word deel van Crossroads Prison Ministries: Hierdie is ’n program waar gevangenes in verskeie tronke in Suid-Afrika vir ’n Bybelstudieprogram inskryf. Die lesse word dan weekliks aan persone besorg wat as mentors optree en die werk nasien en bemoedigende kommentaar lewer. Tans is daar drie mentors in ons gemeente wat voltyds hierby betrokke is.
- Ondersteuning aan Disciples Go Ministries (DGM) en Training of Pastors in Africa (TOPIA): DGM word tans gedryf deur ’n vorige predikant en tans lidmaat van ons gemeente, br. Giepie van der Merwe. Br. Giepie gaan uit na verskeie gebiede in Suid-Afrika waar hy groepe oplei om dissiples te maak d.m.v die sogenaamde Ontdekkings Bybelstudie Metodiek. Die doelwit is ’n vermenigvuldigende uitkoms waar nuwe dissipels uit die Bybelstudiegroepe op hul beurt weer uitgaan en nuwe Bybelstudiegroepe vorm en dissipels maak. Br. Giepie doen ook hierdie werk oor die landsgrense heen. GK Pta Annlin is een van DGM se vennote en ondersteun die inisiatief finansieel.
Ds. Johannes Aucamp van TOPIA se missie is om kerkleiers binne en buite Suid-Afrika op te lei. As sendeling werk hy in verskeie buurlande maar in Suid-Afrika doen hy opleiding by Bybelskole in o.a. Baberton en King William’s Town. Hy spreek ook verskeie gemeentes toe in SA en bied opleiding aan vir hierdie gemeentes. TOPIA word ook deur GK Pretoria Annlin finansieel ondersteun en ’n fondsinsamelingsprojek in die vorm van ’n potjiekoskompetisie is in 2026 vir TOPIA geloots.
3 Evangelisasie in die buiteland
Historiese agtergrond: Sedert 2010 verskaf GK Pretoria-Annlin ondersteuning aan die Gereformeerde Kerk in Mosambiek (in Portugees is dit Igreja Reformada em Moçambique (IRM)). Aanvanklik in 2011 en 2012 was Annlin op uitnodiging van GK Strand deel van ’n uitreikspan wat evangelisasiewerk in en rondom Mocuba in die Zambezia Provinsie van Mosambiek gedoen het. Hierna het die Annlin gemeente op sy eie begin uitreik. Die fokus het mettertyd al hoe meer Noord begin skuif na die meer onbereikte gebiede. Tot en met 2018 het groepe van ongeveer 10 of meer persone na die teikegebiede gereis en daar in kleiner groepies verdeel om gemeentes van die IRM te besoek. Die hoofdoel was om die gemeentelede te leer wat ware dissipelskap van Jesus vereis en om hulle op te lei om die evangelie verder uit te dra en nog dissipels te gaan maak. Sekondêre programme soos opleiding van jeugleiers om die Christelike leer aan kinders oor te dra, Bybelstudie met vroue en vaardigheidopleiding is ook aangebied. In die aande is die Jesusfilm aan die hele gemeenskap vertoon, wat ook diegene ingesluit het wat nie deel was van die gemeente nie. Elke uitreik het sy uitdagings gehad maar groot seën is nog elke jaar ervaar met elke uitreik. Gou is daar besef dat die uitreike nie slegs tot voordeel is van die teikengroepe nie, maar ook tot voordeel en verryking van die uitreikspanne self. Verslae oor ‘n paar van die uitreike kan bestudeer word deur op die volgende skakel te klik: Uitreike.
Uitreik na gemeente in 2015
Die groot groepe van 10 of meer was later nie meer ’n opsie nie omdat die Mosambiekse regering nie meer goedkeuring daarvoor wou verleen nie. Ook is groot byeenkomste van mense tydens die Covidjare verbied. Daar is toe besluit om kleiner groepies te stuur wat na en van die gebied kon vlieg. Die jongste neiging was om hoogstens 2 of 3 persone te stuur wat heen en weer na en van Nampula kon vlieg of per geleentheid saam met iemand in die motor kon reis en dan na die uitreik terug te vlieg.
Huidige aktiwiteite: In 2025 is daar egter besluit dat dit meer effektief sou wees om al die kerkleiers van die Gereformeerde Kerk in Milange byeen te kry en om ’n twee-weke lange opleidingskursus vir hulle aan te bied. Die kursus was nodig geag omdat:
- Ongeveer 5 uit die 25 gemeentes in Noord-oos Mosambiek vakant is en deur ’n ouderling bedien word wat nie goed toegerus is nie;
- Jong predikante wat die drie-jaar diplomakursus van die Hefsiba teologiese skool deurloop het, oor beperkte praktiese kennis en ondervinding beskik wanneer hulle hul kursus voltooi;
- Daar tans minder finalejaarstudente klaarmaak (Slegs een kandidaat in 2025).
Vier hoogs bekwame aanbieders is in 2025 gestuur om die kursus te gaan aanbied. Hulle was ds. Danie Murray van Handevat, ds. Johannes Aucamp van Training of Pastors in Africa (TOPIA), ds. Ronald Chimzimu van Church of Central Africa Presbyterian in Malawi en br. Fred Nel van Eternal Life Outreach.
Die 2025 kursus was baie geseënd en die Tumbine Sinode in Noord-Oos Mosambiek het gevra dat die kursus jaarliks herhaal word. Die Sinode self speel ’n groot rol met die uitkies van die onderwerpe wat aangebied word. Die kursus is aansienlik duurder as ’n uitreik van 2-3 persone maar ons Here het ryklik voorsien deur donateurs se harte oop te maak vir die saak.
2025 – Bygewoon deur 33 predikante en kerkleiers
Benewens die kursus verleen die Annlin gemeente ook hulp aan ’n aantal predikante om te oorleef in armoedige omstandighede. Ander gereformeerde gemeentes van die GKSA dra ook by tot hierdie doel en hul fondse word versigtig namens hulle bestuur deur die Annlin Kerkkantoor.
Daar is ook opleiding verskaf aan Mosambiekse ouderlinge en predikante en twee word dan uitgekies om uitgestuur word vir 6-8 weke om die Woord te gaan verkondig in gebiede wat nog onbereik is, d.w.s. in gebiede waar die Woord van die Here selde gehoor word. Die Annlin gemeente finansier dan die reiskoste na die onbereikte gebied asook die aanvanklike verblyfkoste totdat hulle ’n huis van vrede (Lukas 10) gevind het waarvandaan hulle kan opereer.
4 Bybelverspreiding
Bybels in verskeidenheid van tale: Die doelwit is om bybels beskikbaar te stel aan diegene wat dit nie kan bekostig nie of aan diegene wat nie toegang het om bybels te koop nie. Elke jaar stel die Evangelisasiekommissie ’n teiken t.o.v. die aantal bybels wat versprei gaan word. Bybels word in Suid-Afrika sowel as in ons buurlande versprei. Die gemeente het in 2017 hiermee begin en die hoeveelhede Bybels versprei word in die tabel hieronder uiteengesit.
Bybelverspreiding oor die afgelope aantal jare.
Al die eer aan ons God. Behalwe in die Covidjare is die teiken wat gestel was nog elke jaar behaal.
Heidelbergse Kategismus: Sover moontlik word boekies met die Heidelbergse Kategismus saam met die bybels uitgedeel. Die Heidelbegse Kategismus kon egter nog nie in al die amptelike tale van Suid Afrika bekom word nie. Die Heidelbergse Kategismus is tans by die Kerkkantoor beskikbaar in Afrikaans, Engels, Portugees, Sepedi, Sesotho, Tswana en Zulu.
Die Evangelisasiekommissie het ook ’n oudio opname laat maak van die Heidelbergse Kategismus in Engels. Dit is bedoel vir swaksiendes wat nie meer kan lees nie en ongetetterdes. Dit kan ook met groot vrug gebruik word in die motor as jy op die lang pad is en jouself wil opskerp in die Christelike leer. ’n selfoon toepassing is onwikkel en kan gemaklik op enige iPhone of Android selfoon gelaai word. Die toepassing is gratis verkrygbaar op Appstore in die geval van iPhone selfone en op Playstore in die geval van Android selfone. Soek vir die groen embleem met die vissie op.
Die Evangelisasiekommissie het onlangs die kategismus in die Lomwe taal (Noord-Oos Mosambiek) laat vertaal. Daarna is daar ’n oudio opname van hierdie vertaling laat maak en op ’n aantal instrumentjies gelaai saam met die Lomwe bybel. Op hierdie manier het die bybel en die Heidelbergse Kategismus toeganklik geraak vir talle ongeletterde mense wat slegs Lomwe magtig is.
Stel jy dalk belang om betrokke te raak by ons gemeente se evangelisasie-aksies? Of wil jy dalk ‘n finansiële bydrae maak? Ons wil baie graag van jou hoor. Vul asb die vorm in en ons sal so gou as moontlik terugkom na jou toe via jou epos .