GEREFORMEERDE KERK

PRETORIA-ANNLIN

 

Oor Annlin Gemeente

 
 

Ons visie:

‘n Eensgesinde gemeente wat hul lewensdors in Christus les, wat uit genade die Here en hul naaste lief het en wat volgelinge van Christus maak.

Ons missie:

  1. Om die God van geregtigheid en genade beter te leer ken.
  2. Om die wil van ons Here vir ons beter te leer ken en uit te leef.
  3. Om ons Geesgegewe eenheid te koester en uit te bou.
  4. Om ‘n kerk van liefde en ontferming te wees.
  5. Om mense wat los van Christus leef te roep en te begelei om Christus te volg.

Diensterreine van die gemeente:

Spiritueel (1 & 2 van missie)

Ons groei en word al meer soos Christus

Pastoraal (2 & 3 van missie)

Ons help mekaar om Christus in ons daaglikse lewe te volg

Diakonaal (3 & 4 van missie)

Ons dien met die gawes wat die Gees ons gegee het

Missionaal (4 & 5 van missie)

Ons straal Jesus in ons daaglikse lewe uit

Ondersteuningsbediening

Bykomend tot hierdie vier aspekte van die gemeentelike lewe, is daar ondersteuningsgroepe wat verantwoordelik is vir administratiewe en logistieke ondersteuning.

Ons Geskiedenis

Die ontwikkeling Noord van die Magaliesberg het tot gevolg gehad dat die 15 gesinne van Eloffsdal-Wonderboom-Suid wat daar gewoon het vinnig aan­­gegroei het tot agt wyke in 1965. Gevolglik het die gemeen­te Pretoria-Annlin op 16 Oktober 1965 afgestig en het die medeleraar van Eloffsdal-Wonderboom-Suid , ds. J.H. Boneschans, beroep as hul eerste predikant.

Op 14 Desember 1965 is ‘n boufonds in die lewe geroep en kon lidmate onder andere stene simbolies aankoop teen R1 stuk. ’n Skenking van een morg grond deur ’n lidmaat het die kerk­boupoging grootliks aangehelp. In 1969 aanvaar ds. JH Bone­schans ’n be­roep na Salisbury in Suid Rhodesia en word in 1970 opgevolg deur ds. PC Snyman.

Die kerkgebou en pastorie word deur die argitek Johan de Ridder ontwerp en deur die bouer Koos Vierbergen (tans nog lidmaat) opgerig. Op 20 April 1974 onthul ds. PC Snyman die gedenkplaat waarop dié inspirerende teks voorkom:

 “Want ons is medewerkers van God, die akker van God, die gebou is julle”.

Die orrel met nagenoeg 1000 pype word op 3 Augustus 1974 in gebruik ge­neem.  Vanaf 1972 tot 2007 was suster Nellie Venter die orrelis. Daarna het broeder Leon Greyling by haar oorge­neem en suster Martie Viljoen het weer by hom oorgeneem. Sy is vandag nog die gemeente se orrelis.

Ds. Andries Myburg begin in 1975 sy bediening hier en onder die seënende hand van die Here het die gemeente steeds gegroei en op 28 Mei 1977 stig Pretoria-Magalieskruin van Pretoria-Annlin af.

In 1981 word die saal met 450 sitplekke en ’n katkisasiekompleks met 13 lokale voltooi en in gebruik geneem. In 1984 word meerdere bediening ’n werklikheid met die koms van dr. JL Venter. Na jare se vrugbare bediening emeriteer ds. Myburg in 2001 en ds. Attie Venter aanvaar ‘n beroep in ds. Myburg se plek. Die twee dominees Venter werk saam in die gemeente totdat dr. JL Venter aan die einde van September 2008 emeriteer. Hy is in 2018 oorlede en ds. Andries Myburg kort daarna in 2019.

Dr. Nico Vorster bedien die gemeente as medeleraar vanaf 2009 tot 2011 waarna hy diens doen as professor by die Fakulteit Teologie aan die NWU (Potchefstroom). Dr. Nico en sy gesin is nog steeds lidmate van Pretoria-Annlin en preek tans elke tweede maand vir die gemeente.

Dr. Heinrich Zwemstra aanvaar ’n beroep in 2011 as medeleraar en bedien Pretoria-Annlin vanaf 2012 tot einde 2017. Ds. Gideon (Giepie) Van Der Merwe volg dr. Zwemstra op as medeleraar vanaf Maart 2018 en werk saam met ds. Attie Venter in die gemeente tot April 2023 waarna ds. Attie Venter weens mediese redes emeriteer en ds. Giepie van der Merwe na ’n ander staat van lewe oorgaan.

In Oktober 2023 word ds. Pieter Kurpershoek as enigste leraar van die gemeente bevestig en is tans die predikant van die gemeente.

Op 4 Mei 2019 stig die Engelse gemeente, Grace Reformed Church of Northern Pretoria af van die Gereformeerde Kerk Pretoria-Annlin. Die twee gemeentes deel tans die kerkgebou en fasiliteite. Dr. Brian De Vries, die hoof van Mukhanyo teologiese skool, het aanvanklik uitgehelp as die leraar van Grace Reformed Church en in 2024 sluit ds. Mauritz Bezuidenhoudt hom aan by die Engelse Gemeente om die bediening voort te sit.

Predikant

Die gemeente se predikant is ds. Pieter Kurpershoek.

Die predikantspaar: Mev. Marietjie en ds. Pieter Kurpershoek

 

Ons embleem

 

Die kruis simboliseer Jesus Christus se soenoffer waar Hy homself geoffer het vir ons sondes.     (Kol 1:20)

Die soliede kring om die kruis simboliseer God die Vader wat in sy genade sy enigste Seun gegee het sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. (Joh 3:16)

Die stralekrans simboliseer God se heerlikheid (Fil 4:20) en die feit dat Jesus opgestaan het en dat Hy lewe en dat Hy ons koning is. (Heb 10:12).

Die strome water simboliseer dat ’n oorvloed lewende water net by Jesus te vinde is. As ons van daardie water drink sal ons nooit weer dors kry nie. (Joh 4:13). Ook simboliseer dit die Heilige Gees wat oor ons uitgestort is want Jesus het na die Gees verwys toe Hy gesê het dat strome lewende water uit elke gelowige se binnenste sal vloei. (Joh 7:38&39). Die strome lewende water kan ook vergelyk word met die Heilige Gees wat die wêreld invloei soos wat die evangelie versprei.        (Hand 1: 8).

Die twee mensfigure eer en prys die Lewende God en dank Hom vir sy troue liefde. (Ps 100:1-3). Hulle simboliseer die bruidskerk waarvan Jesus Christus die Hoof is. (1 Kor 12:27).

 

Ons Leer

Ons gemeente glo dat die Heilige Skrif die Woord van God is en dat dit die volmaakte leer van die saligheid bevat en ons verwerp alle leringe wat daarmee in stryd is.

 

Ons onderskryf die Drie Formuliere Van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordse Leerreëls.

Ons Werkswyse

Daar is drie bedieninge (Kerklike Ampte) in ons gemeente, naamlik die Bedienaars van die Woord, die Ouderlinge en die Diakens. Ons volg die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke van Suid Afrika om die goeie orde in hierdie kerk van Christus te handhaaf.

Die gemeente is in 44 wyke verdeel en elke wyk bevat ongeveer 9 wooneenhede. Elke wyk het sy eie ouderling wat gereeld die lidmate in die wooneenhede gaan besoek. Die ouderlinge beoefen die diens van regering in die gemeente.

Die diakens is verantwoordelik vir die versorging van die gemeente (Hand 6: 3).

Toesighouding oor  Woordbediening, die gebruik van die sakremente en die uitoefening van die kerklike tug berus uitsluitlik by die Ouderlinge. Die predikant en ouderlinge saam met die diakens kom twee keer per jaar bymekaar om oor administratiewe sake te besluit.

Ons diens- en sosiale groepe

Benewens die liefdesdienste wat die diakonie verrig is daar ook ’n aantal diensgroepe binne die gemeente wat hulle beywer vir ’n spesifieke taak, bv. jeugwerk vir hoërskoolleerders. Meer inligting oor elke diensgroep verskyn op die tuisblad.

Daar is ’n aantal Bybelstudiegroepe wat gereeld bymekaar kom. Voorbeelde is die Bybelstudiegroep Seniors wat twee-weekliks byeenkom, die Bybelstudiegroep vir studente en jong getroudes en dan ook die vroue Bybelstudiegroep wat beide weekliks vergader.

Daar is ook ’n paar sosiale groepe in die gemeente wat hul stokperdjie saam beoefen, soos bv. om gereeld saam byeen te kom vir speletjies. ’n Groep kampeer entoesiaste gaan soms saam op ’n vakansie.