GEREFORMEERDE KERK

PRETORIA-ANNLIN

Sekuriteit

WIE IS ONS?
Die veiligheid en sekuriteitskommissie word gelei deur ʼn klein groepie manne wat jare ervaring het in polisiering, risikobestuur en sekuriteit, bygestaan deur ʼn hele aantal lidmate wat hulle tyd en bystand vrywilliglik aanbied. Die Sameroeper is tans oudl. Jan Rehder.

WAT DOEN ONS?
Soos die naam aandui, is die kommissie verantwoordelik vir aspekte rondom die beveiliging van die kerkgeboue en terrein, asook die optimale funksionering van spanne wat die veiligheid van lidmate en besoekers tydens gemeentebyeenkomste verseker. Skakeling vind plaas met die gekontrakteerde sekuriteitsmaatskappy rakende die monitering van alarmstelsels, kameras, patrollies van reaksiebeamptes en statiese wagdiens. Die sekuriteitspanne het direkte radiokontak met die Gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) sou daar ’n insident plaasvind waartydens bv. die polisie, ambulans of brandweer benodig word.

Hierdie kommissie het ’n gesonde wisselwerking met kommissies verantwoordelik vir die Geboue en Terreine, asook vir Staande Administrasie en Kommunikasie.

SKRIFBEGRONDING:

  • In Neh. 4:9 lees ons: “… Ons het tot ons God gebid en dag en nag wagte teen hulle uitgesit …” Dit dui op beide die belangrikheid van gebed en praktiese stappe om onsself te beveilig.
  • In 1 Kron. 26:12-16 lees ons hoe die poortwagters van die tempel, tesame met die familiehoofde, dag en nag wagdiens gedoen het om die heiligdom te beskerm.
  • In Luk. 11:21 hoor ons die HERE Jesus Christus se woorde wanneer Hy sê: “… Wanneer ’n sterk man hom goed bewapen en sy huis bewaak, is al sy besittings veilig …”
  • En ook in Joh. 13:14-15 wanneer Jesus vir sy disippels sê: “… As Ek, wat julle Leermeester en Here is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen …”

Nog hulp in hierdie groep is welkom. Lidmate wat graag betrokke wil raak, word uitgenooi om hul ouderling, die sameroeper of die kerkkantoor te kontak deur hierdie e-posvormpie in te vul.