GEREFORMEERDE KERK

PRETORIA-ANNLIN

Tradisionele Dienste

Visie

Om kerklike tradisies / gebruike, wat van geslag tot geslag oorgedra en in stand gehou is, te handhaaf om ons gemeente op te bou as ’n gemeenskap van gelowiges.

Missie

Die sorgvuldige beplanning en organisering van aktiwiteite wat verband hou met die doeltreffende funksionering van ons gemeente se eredienste, nagmaaldienste, die kollektes en kommunikasie.

Groep se samestelling

Hierdie diensgroep se menslike hulpbronne en werksaamhede word hoofsaaklik uit die diakonie saamgestel en bestaan uit die nagmaaldienste, kollektes en kommunikasie & tegnologie.

Voor die nagmaaldiens word daar heelwat voorbereiding gedoen. Tydens nagmaal word dienste gelewer en opruiming word na die diens gedoen. So moet die nagmaaltafels geplaas en gedek word, die brood voorberei en die nagmaalwyn / vrugtesap gereedgemaak word. Daar moet ook toegesien word dat ordelikheid geskied met die rotering van die lidmate wat aansit by die tafel tydens die bediening.

Die opneem, hantering en bestuur van kollektes tydens die eredienste resorteer ook onder hierdie diensgroep. Hierdie proses verg baie streng protokol volgens die voorskrifte van artikel 25 van die kerkorde wat stiptelik nagekom moet word.

Kommunikasie & tegnologie behels die nagaan van die klank- en skermstelsel voor die eredienste ’n aanvang neem. Dit moet ook deurlopend onderhou en herstel word. Die predikant se mikrofoon en die diensbaarheid daarvan word ook getoets. Die stroming van ons erediens op Kerkdiensgemist en Youtube word deur hierdie diensgroep hanteer. Die plasing van die regte liedjies op die regte tyd op die skerms word ook hier behartig.