GEREFORMEERDE KERK
PRETORIA-ANNLIN
Vervoer
Visie
‘n Gemeente wat ook na mekaar se vervoerbehoeftes omsien in tye van nood, siekte en/of ouderdom
Missie
Om alle vervoerbehoeftes in ons gemeente te beplan, koördineer en te implementeer. Dit behels die reël van vervoer en saamrygeleenthede vir behoeftige lidmate, bejaardes en/of gestremde lidmate wat nie oor hul eie vervoer beskik nie. Die saamrygeleentheid kan ten doel hê om eredienste of ander gemeentebyeenkomste te kan bywoon of om sulke persone by te staan om dokters- of noodafsprake na te kom of noodaankope te kan doen.
Groep se samestelling
Omrede die koördineerder verkieslik ’n diaken moet wees, is daar in hierdie geval ’n uitsondering gemaak waar ’n suster in ons gemeente haarself geroepe gevoel het om haar dienste en gawes tot ons gemeente beskikbaar te stel. Sy sal vervolgens aan haar eggenote, ’n diaken, verslag doen en hy weer op sy beurt aan die diakonie.
’n Aantal sub-groepe gaan geskep word om dienslewering te vergemaklik en te vereenvoudig, byvoorbeeld groepe vir hulp aan lidmate wat self kan loop, groepe wat hulp gee vir lidmate wat met hulpmiddele (bv. krukke of looprame) oor die weg moet kom en groepe wat lidmate in rolstoele bystaan. (Dit sal hoofsaaklik deur middel van WhatsUp-groepe geskied). Noue skakeling met ander diensgroepe, byvoorbeeld die versorgings- en senior diensgroepe gaan noodsaaklik wees.
’n Verdere groep sal weer hulpbehoewende lidmate wat oor geen vervoer beskik nie en in uitsonderlike gevalle dokters- of noodafsprake moet nakom of noodaankope moet doen, kan help met die betrokkenheid van die wyksouderling en moontlike hulpverlening binne wyksverband. Dit is belangrik om daarop te let dat hulpverlening binne wyksverband daarop gemik is om die persoon wat moontlik gaan hulp verleen nie te belas en te verontrief met ritte wat buitensporig ver en midde in spitsverkeer sal plaasvind nie. Dit is uiters belangrik om kennis te neem dat hierdie aspek as ’n LIEFDESDIENS aan behoeftige lidmate beskou moet word.
Die Vervoerdiensgroep se bedrywighede is tans nog in ’n beplanningstadium. Die implementering kan nog etlike maande duur.