GEREFORMEERDE KERK
PRETORIA-ANNLIN
Verwelkoming en gasvryheid
Visie
Dit is dus ons ideaal dat elke lidmaat van ons gemeente wat ’n besoeker of nuwe lidmaat raaksien, hom of haar sal verwelkom en tuis sal laat voel en hom / haar sal verwys na ons diensgroep waar hulle die toepaslike inligting sal ontvang. Dit is dan ons bede dat elke lidmaat van ons gemeente aanbevelingsbriewe – getuigskrifte vir Christus mag wees: Dat die wêreld daarbuite mag sien dat God die Heilige Gees in ons harte leef en werk.
Missie
Ons diensgroep beywer ons daarvoor om nuwe of voornemende lidmate of besoekers te verwelkom. Die lede van ons groep stel dit ten doel om met hartlike liefde en vriendelikheid lidmate en vreemdelinge tuis en geborge te laat voel sodat hulle die liefde en warmte van Christus in die gemeente mag ervaar.
Ons wil graag met die vrug van die Gees wat in ons harte is, ook vreemdelinge en ander op ons pad na Christus en sy kerk toe aantrek sodat hulle soos in Sagaria 8:23(b) mag sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor (gesien) God is by julle”.
Mag ook Paulus se woorde aan die gemeente van Korinte op ons diensgroep van toepassing wees. 2 Korintiërs 3: 2 & 3: “Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Dit is tog duidelik dat julle ’n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense!”
Groep se samestelling
Die diensgroep bestaan tans uit 14 lede.
Ons diensgroeplede is elke Sondag op hulle pos in die voorportaal van die saal waar ons nuwe of voornemende lidmate en besoekers vriendelik en hartlik ontvang. Hulle besonderhede word neergeskryf om aan die kerkkantoor en die predikante deur te gee en om hulle van die nodige inligting ten opsigte van die GK Pretoria-Annlin gemeente te voorsien.
Alle nuwe lidmate word ook persoonlik uitgenooi na ’n byeenkoms waar ons mekaar beter wil leer ken deur meer van mekaar te hoor en dan gesellig te onthaal op tee, koffie en verversings.
’n Tweede baie belangrike aspek van hierdie diensgroep is die verwelkoming van nuwe intrekkers. Hulle tree op as eerste gespreksgenoot om ’n behoeftebepaling oor die fisiese-, geestelike-, finansiële aspekte asook inligting in verband met die gesinsverband (byvoorbeeld kinders) te doen. Hulle besoek dan ook die nuwe intrekkers om te bepaal of hulle by die gemeente ingeskakel het.